My vriend, Dan, sou binnekort sy hoërskool loopbaan voltooi en moes ’n aanbieding doen. Hy het vyftien minute tot sy beskikking gehad om te vertel hoe hy sover gekom het om sy sertifikaat te verwerf en om diegene wat hom gehelp het, te bedank. Ek het deur die vertrek gekyk voordat hy begin praat het en opgemerk hoe baie persone daar teenwoordig was – onderwysers, familie, vriende, kerkleiers en afrigters – ja, al die groepe was in die gehoor aanwesig. Hy het begin praat en vertel hoe elke persoon sy lewe geraak het. Een dame was vir hom “soos ’n tante wat altyd daar was” vir hom. ’n Dertigjarige man het “die evangelie met hom gedeel en gereeld vir hom leiding gegee.” Nog ’n man het hom geleer om “hard te werk en om homself te dissiplineer.” Iemand van die kerk het hom elke dag na die “sportveld geneem om te oefen” aangesien sy ma dit nie kon doen nie. ’n Egpaar het hom soos “hulle eie seun” behandel. Al hierdie mense het een ding in gemeen gehad – hulle was Christene wat uitgereik het om ’n ander te help. Paulus het gesê: “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Galasiërs 6:10). Ons kan help om iemand anders te vorm deur belang te stel en op te tree. As dit gebeur sal ons ook, soos in Dan se geval, ’n oes kan insamel (Gal 6:9). Kyk om jou heen. Is daar iemand wat jou hulp nodig het?