Ons woon in die staat Idaho en volgens een legende kom dié naam van ’n woord in die taal van die Shoshone Indiane “ee-dah-how”. Wanneer dit in Engels vertaal word, beteken dit iets soos “Kyk (behold!) die son wat bokant die berge sy verskyning maak.” Ek dink dikwels daaraan wanneer die son bokant die berge in die ooste verskyn en lig en lewe ons vallei deurstroom. Dan dink ek ook onwillekeurig aan Maleagi se belofte: “Die son van redding [sal] skyn met genesing in sy strale” (Maleagi 4:2). Dit is God se onherroeplike belofte dat ons Here Jesus weer sal kom en dat die hele skepping “self ook bevry [sal] word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê” (Romeine 8:21). Elke nuwe sonsopkoms is ’n herinnering aan hierdie belofte dat ’n ewige oggend eendag sal aanbreek wanneer die helder “Son van geregtigheid” sal opkom. Dan sal alles reggemaak en herstel word. Daar sal nie meer ’n seer rug, pynlike knieë, finansiële probleme, verliese en veroudering wees nie. Maleagi 4:2 sê: “Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” Dit is my verwagting en my hoop! En ek sien reikhalsend daarna uit. Jesus het gesê: “Ja, Ek kom gou!” (Openbaring 22:20). Amen, kom Here Jesus!