Chuck het sy motor tot stilstand gebring toe hy skielik van agter deur ’n ander voertuig getref is en teen die motor voor hom vasgedruk is. ’n Gekraak en geskuur het aangedui dat nog voertuie van agter in hulle vasgery het. Chuck het ’n paar oomblikke doodstil bly sit. Toe hoor hy hoedat die motor direk agter hom uitswaai en probeer wegjaag, sodat hy nie met die polisie te doene kry nie. Maar die skuldige bestuurder het nie besef dat hy iets agtergelaat het nie. Toe die polisie opgedaag het, het hulle die trefen- trap bestuurder se nommerplaat opgetel en aan Chuck gesê: “Daar sal iemand by die huis vir hom wag. Hy sal nie hiermee wegkom nie.” Die Bybel waarsku ons ook: “Julle [moet] weet dat julle sonde julle sal agterhaal” (Numeri 32:23). En dit het hierdie man wat probeer vlug het, ook agtergekom. Ons probeer dikwels om ons sondes en tekortkominge vir ander weg te steek. maar niks is ooit vir God “onsigbaar” (Hebr. 4:13) nie. Hy sien al ons mislukkings, ken ons gedagtes en dit wat ons motiveer (1 Samuel 16:7; Lukas 12:2,3). Maar gelowiges het egter ’n wonderlike versekering van God ontvang: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9). Moet dus nie toelaat dat geheime sondes wat nie bely is nie, tussen jou en God kom nie (vs. 6,7).