Terwyl ons op die koms van ons agterkleinniggie gewag het, het ek weer besef hoeveel tyd en aandag vereis word om ’n nuutgebore baba te versorg. Hulle is behoeftige klein mensies wat gevoed, geklee, vasgehou en weer gevoed, geklee en vasgehou moet word. Hulle kan nie vir hulleself sorg nie en is afhanklik van die ouer mense om hulle. Maar ons is ook afhanklike kinders – wat van ons Vader in die hemel afhanklik is. Wat het ons nodig wat ons nie vir onsself kan voorsien nie? “Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Ja, Hy voorsien alles, selfs die lug wat ons inasem. Hy voorsien in al ons behoeftes “volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Filip. 4:19). Ons het Hom nodig in al ons probleme (Joh. 16:33), ons het sy liefde nodig (1 Joh. 3:1) en hulp wanneer die nood druk (Ps. 46:2, Hebr. 4:16). Hy gee ons oorwinning wanneer versoekings ons bedreig (1 Kor. 10:13) vergifnis wanneer ons gesondig het (1 Joh. 1:9) ’n lewensdoel (Jer. 29:11) en die ewige lewe (Joh. 10:28). Sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh. 15:5). En van Hom het ons “genade op genade ontvang” (Johannes 1:16). Laat ons tog nooit onsself as heeltemal onafhanklik beskou nie – want ons is beslis nie. Die Here onderhou ons dag na dag. In baie opsigte is ons soos ’n nuutgebore baba, net so hulpeloos en afhanklik.