In ’n boek met die titel UnChristian, word redes aangegee waarom nie- Christene nie hou van persone wat wel in Jesus Christus glo nie. Die mees algemene klagte is die wyse waarop sommige Christene teenoor nie-Christene optree. Die ongelowiges wat in die boek genoem word, beweer almal dat Christene skynheilig, krities, hard, ongevoelig en veroordelend optree teenoor diegene wat nie soos hulle glo nie. Ek is seker jy voel net so ongelukkig soos ek oor die feit dat hulle Christene so beskou. En somtyds is daar meer in dit wat hulle sê as wat ons graag sou wou erken. Ons lees in 1 Joh. 3:1 die volgende: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God!” Maar dan beeld hy ’n skerp kontras uit: Gelowiges is lief vir geregtigheid, bly weg van sonde af en is lief vir mekaar, terwyl ongelowiges sonde doen, ander mense haat en geestelik dood is. Dis harde woorde wat Johannes hier uitspreek. Ons is óf volgelinge van Jesus Christus óf volgelinge van die Satan. Ons is soos Kain, of ons is soos Abel (1 Joh. 3:12, Gen. 4:8-15). Johannes sê ons opregte liefde vir ander is die bewys dat ons opregte kinders van God is (1 Joh. 3:10, 18-19; 4:7-8). Ons kan nie aanhou sondig en dan tog bely dat ons volgelinge van Christus is nie. Daarom is dit so belangrik dat elkeen van ons sal seker maak presies waar ons staan, óf ons ’n volgeling van Jesus is, óf ’n dienskneg van Satan.