Een oggend, toe ek nog baie jonk was, het ek in die kombuis gesit en kyk hoe my ma ontbyt voorberei. Onverwags het die vet in die pan, waarin sy besig was om spek gaar te maak, aan die brand geslaan. Vlamme het die lug ingeskiet en my ma het na die spens gehardloop om ’n sak meel te kry waarmee sy die vlamme wou blus. “Help!” het ek geskreeu en toe bygevoeg. “Ag, ek wens dit was die tyd om te bid.” Die woorde “die tyd om te bid” is nogal dikwels in ons huis gebruik en ek het dit letterlik opgeneem en gedink dit beteken dat ’n mens net op sekere tye kan bid. Die tyd om te bid is natuurlike enige tyd – ja, veral wanneer ons in ’n krisis verkeer. Vrees, bekommernis, onrus en onsekerheid is die aangewese tye wanneer gebid moet word. Dis wanneer ons eensaam is, verlate voel en dink dat almal ons in die steek gelaat het, dat gebed so nodig is en dat ons met desperaatheid in die woorde van Dawid, uitroep: “Red my tog, o God, Here kom my tog gou te hulp” (Psalm 70:2). John Cassian, ’n Christen wat in die 5de eeu n.C geleef het, het die volgende oor hierdie teks gesê: “Dis die vreesbevange uitroep van iemand wat die strikke van die vyand raaksien, die uitroep van iemand wat dag en nag getreiter word en dan verklaar dat hy nie kan ontsnap nie, tensy sy Beskermer hom te hulp kom.” Mag hierdie eenvoudige gebed vir ons in elke krisisoomblik tot hulp wees: “Help, Here!”