Jesus het meer oor geldsake in die Bybel gepraat as oor enige ander saak. Lukas 12 gee vir ons ’n opsomming van sy houding ten opsigte hiervan. Hy veroordeel nie die besit van besittings nie, maar Hy waarsku dringend dat ’n mens nie jou vertroue op finansies moet plaas om jou toekoms te verseker nie. Geld kan nie die probleme van hierdie lewe oplos nie. Alhoewel Jesus oor baie aspekte van geld gepraat het, lyk dit asof Hy op een aspek gekonsentreer het en wel op die vraag: “Wat is geld besig om aan jou te doen?” Geld kan ’n mens se lewe domineer en jou aandag van God af weglei. Jesus daag ons uit om weg te breek van die mag wat geld uitoefen – ja, selfs al moet ons dit weggee. Jesus moedig sy volgelinge aan om die skatte van die hemel te soek, want daardie skatte kan tot voordeel wees in hierdie lewe, maar ook in die lewe hierna. Hy sê in Lukas 12:29 “julle moenie besorg wees nie,” want Hy sal in al ons behoeftes voorsien. Hy verwys na koning Salomo, die rykste man in die Ou Testament. Hy sê: “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie” (Lukas 12:27) en tog was Salomo in al sy prag nie soos een van hulle geklee nie. Hy sê ons “moenie besorg wees nie” (vs.29) maar “beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee” (vs.31). Dis beter om op God te vertrou, Hy wat vir die wêreld sorg, as om jou oor geld te bekommer.