In sy boek Life After Heart Surgery vertel David Burke van sy ondervinding en hoe naby aan die dood hy hom bevind het. Terwyl hy daar in die hospitaal gelê het, het hy ontsettende pyn beleef en moeite gevind om asem te haal. Hy het gevoel dat hy besig was om te sterwe en daarom het hy een laaste keer gebid en God vertrou om hom te red. Hy het ook vergifnis vir al sy sonde gevra. David het aan sy pa gedink, sy pa wat verskeie jare tevore gesterf het. Hy het uitgesien om hom weer te sien. Toe het die verpleegster wat na hom omgesien het, hom gevra hoe hy voel. “Ek voel nou redelik, maar ek is gereed om hemel toe te gaan om voor my Here te verskyn”. “Nie terwyl ek op diens is nie, my vriend,” het sy beslis gesê. Kort daarna het die geneeshere weer sy bors oopgemaak en twee liter vloeistof verwyder. Na dit gedoen is, het David begin herstel. Dis nie ongewoon om te wonder hoe dit sal wees wanneer ons ons laaste oomblikke op aarde beleef. Maar dié “wat … in die Here sterwe” (Openb. 14:13) het die versekering dat hulle kosbaar is in die oë van God. Hulle dood is “vir die Here … geen geringe saak nie” (Psalm 116:15). God het ons lewensdae bepaal selfs voor ons gebore is (Psalm 139:16) en ons leef slegs omdat “die asem van die Almagtige … my die lewe gee” (Job 33:4). Alhoewel ons nie weet hoeveel tyd ons het nie, kan ons gerus wees omdat Hy weet.