Een middag het Angela aan haar jong dogtertjie vier jellieboontjies gegee en haar goed laat verstaan dat dit al is wat sy sal kry – nie een meer nie! Nadat sy die eerste drie jellieboontjies sommer vinnig en gulsig verorber het, het Elina die laaste een so versigtig hanteer. Sy het dit eers ’n rukkie gesuig, dit toe uit haar mond uitgehaal, dit gebyt, weer daaraan gesuig en toe uiteindelik dit begin kou. Aangesien sy geweet het dat dit die laaste een was wat sy sou kry, het sy ’n volle 45 minute geneem om dit te verorber. Angela het haar dogtertjie glimlaggend dopgehou en gesien hoe sy dit geniet – die smaak en tekstuur en hoedat sy elke bietjie geur uit die jellieboontjie wou kry. Dit was voorwaar vir haar ’n aangename ondervinding. Ons lees in die Bybel: “Kom ondervind (Engels taste) en sien self dat die Here goed is” (Psalm 34:9). Net so wil die Here hê dat ons ook sy teenwoordigheid moet geniet. Hy help ons om Hom beter te ken en ’n intieme verhouding met Hom op te bou. En wanneer ons op sy Woord konsentreer en mediteer, kry ons ’n dieper begrip van wie Hy werklik is en wat Hy vir ons doen (Esegiël 3:1-3). Namate ons sy goedheid en liefde inneem, openbaar Hy aan ons die geur van sy kreatiwiteit, soewereiniteit, heiligheid en getrouheid. Ek dink ons Vader kyk met blydskap op ons neer as Hy sien hoedat ons leer om Hom te ken en te waardeer.