Toe ek as kind Amerikaanse voetbal gespeel het, was dit vir my baie moeilik om gewoond te raak aan alles wat ek moes aantrek en al die toerusting wat nodig was. Om met ’n helm en skouerskutte te hardloop en nog allerhande ander beskermende toerusting te dra, het vir my aanvanklik baie ongemaklik en onnodig gevoel. Maar later word dit byna soos ’n goeie vriend wat my teen ernstige beserings kan beskerm. Wanneer ’n voetbalspeler dus aantrek, weet hy dat sy toerusting daar is om hom teen beserings te beskerm. As volgelinge van Christus het ons ook ’n gevaarlike vyand – ’n geestelike teenstander wat ons graag tot ’n val wil bring en ons vernietig. Gelukkig het ons Here vir ons die nodige beskerming voorsien en Hy daag ons uit om daagliks ons geestelike wapenrusting op te neem. In Efesiërs 6:13 lees ons: “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee sodat julle weerstand kan bied … [en] op julle pos kan bly staan” (vs. 13). Paulus gaan dan verder en beskrywe presies wat die wapenrusting is – die waarheid, die vryspraak, die borsharnas, die swaard, die skild en die skoene. Hierdie wapenrusting is slegs effektief as ons dit aantrek en gebruik, al voel dit miskien ongemaklik. Getrouheid aan die Woord (vs. 17), gebed (vs. 18) en getuienis (vs. 19) is krities noodsaaklik om ons wapenrusting ’n deel van onsself te maak. Trek daarom die volle wapenrusting aan! Die stryd is hewig!