Ek het ’n vriend wie se visitekaart ’n prentjie van Rodin se bekende standbeeld, The Thinker, op het. Hierdie beroemde standbeeld beeld iemand wat in diepe nadenke verkeer, uit. Onderaan die standbeeld is die inskripsie: “Die lewe is nie regverdig nie.” Ja, dit is beslis nie. Enige teorie wat beweer dat hierdie lewe regverdig is, is ’n illusie en bedrieglik. Ten spyte van die oorweldigende onregverdigheid in hierdie ou lewe, bid Dawid in Psalm 37 dat hy nie sal terugslaan nie, maar in die Here sal rus en op Hom vertrou om geregtigheid te laat geskied op die tyd wat Hy daarvoor bepaal (Psalm 37:7). “Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land” (vs. 9). Ons woede is gewoonlik wraaksugtig en bestraffend. Die Here se woede is egter vol genade en word nie uit weerwraak gebore nie. Ja, sy woede kan soms onverbiddelik wees, maar tog vol liefde en dit bring ons eindelik tot geloof en bekering. Ons moet nie wraak neem nie, want God sê: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God … ’Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld’ sê die Here” (Romeine 12:19). “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (vs. 21). Dit alles moet uit die hart ontspring, die fontein waaruit al ons lewenssituasies vloei. Mag ons woede aflê en geduldig op God wag.