“Sal jy vir my suster bid?” Die ruwe werker het ongemaklik gelyk en ek het hom ondersoekend aangekyk. Maande tevore, in die drukkende Augustus weer, was die situasie by die werk baie moeilik. Die atmosfeer was gespanne en die bestuurders het steeds hoër eise aan ons, as werkers, gestel. Die vakbonde het beswaar gemaak en die leiers het ons gemaan om ons werkstempo af te skaal. Omdat my geloof en idealisme my verhinder het om deel te neem, was ek nie baie populêr nie. Ek het gevoel die Here verwag net die beste van my en wou nie meedoen nie. Dit het natuurlik daartoe gelei dat my medewerkers my uitgesonder het en op alle moontlike maniere getreiter het. En toe hierdie ruwe werker my gevra het om te bid, was ek verbaas, want hy was destyds die leier van die stakers gewees. Sou dit ’n moeilike opdrag wees? Die ander werkers het my gespot en ongure grappe vertel. Daarom het ek die vraag vir gebed met agterdog bejëen. Was dit ook ’n poging om my in verleentheid te plaas? “Waarom ek?” het ek gevra. “Omdat sy kanker het,” het die ruwe werker gesê. “Ek het iemand nodig wat toegang tot God het.” Die gespanne gevoel tussen ons het verdwyn toe ek vir sy suster gebid het. Soos die man in Lukas 7 sal persone wat probleme het, dadelik tot die punt kom. Hulle gaan direk na mense wie se geloof opreg is. Dis nodig dat ons as Christene daardie mense moet wees. Is ons lewens sodanig dat ander ons sal vertrou?