Baie mense hou van sjokolade en geniet die soetheid en ook die energie wat hulle daaruit kry. Maar nou het Britse tegnici wat met motors werk, ontdek dat dit as brandstof gebruik kan word. Wetenskaplikes aan die Universiteit van Warwick het ’n resiesmotor gebou wat groente-olies en sjokolade as brandstof gebruik. Hierdie brandstof verskaf soveel energie dat die motor ’n spoed van tot 135 myl per uur kan bereik. Die Bybel vertel ook dat kos ’n besondere energie kan verskaf. Nadat die Here Elia op die berg Carmel gebruik het om ’n wonderwerk te doen, is die geestelike hoogtepunt gevolg deur vervolging en depressie. God het Elia se gemoedstoestand gesien en ’n engel gestuur om vir die vermoeide profeet kos en water te voorsien. Die krag wat hierdie kos vanuit die hemel voorsien het, is merkwaardig: “Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God” (1 Konings 19:8). Net soos ons kos nodig het om ons fisiese lewe te onderhou, het ons ook voedsel nodig om ons geestelik aan die gang te hou. God se Woord is “soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek” (Psalm 19:11) en voed ons siele. Dit maak ons wys (Psalm 19: 8) en voorsien voedsel en energie vir die lang lewensreis. Neem tyd om jouself te voed deur die Bybel te lees en dit te oordink.