Uitgelate uitroepe het van buite af in ons huis weerklink en ek het gewonder wat daar buite aangaan. Toe ek deur die gordyne na buite geloer het, het ek gesien hoedat twee jong seuns te heerlik speel in die dik stroom water wat uit ’n brandkraan spuit. Die watervloed het my daaraan laat dink hoe die Here sy kinders seën en hoe nodig dit is dat ons besef hoe die Here “ons dag na dag … ” (Psalm 68:20) dra en hoe ryklik Hy ons seën. Alhoewel ek weet dat Hy my van soveel seëninge voorsien, voel ek soms ontevrede wanneer my motor breek, my gesin griep opdoen en baie siek is, en as verhoudings probleme gee. Dan voel God se seën vir my meer soos die gedrup van ’n kraan eerder as ’n vloed water wat uit ’n brandkraan spuit. Miskien is dit die rede waarom Dawid ons in Psalm 103 herinner dat ons die Here moet loof en “nie een van sy weldade vergeet nie” (vs.2). En dan gee hy ’n hele lys van seëninge wat op ons as gelowiges uitgestort word. Hy herinner ons daaraan dat God al ons sondes vergewe, al ons siektes genees, ons red van die graf en ons met liefde en ontferming kroon en ons die goeie in oorvloed laat geniet (Psalm 103:3-5). Kom laat ons vandag tyd neem om God se oorvloedige seën te erken en te waardeer en nie voortdurend sy oorvloed van seëninge miskyk nie. Dis nie net druppels nie, maar strome wat God oor ons uitstort.