Baie van die eerste ruimtevaarders was vroeër Boy Scouts gewees. Die Scouts het die verbeelding van jong seuns wakkergemaak en hulle die dissipline geleer sodat hulle hul doelstellings in die lewe kon bereik – ja, selfs al het dit beteken dat hulle na die sterre moes reik. Op 20 Julie 1969 was die verkenners besig met ’n konferensie en terwyl dit aan die gang was, was hulle opgewonde om te hoor hoedat die Eagle Scout, Neil Armstrong, groete vanuit die hemelruim aan hulle stuur. Een van hulle geledere het opgegroei en op ’n wonderlike wyse sy drome vir die toekoms gerealiseer! In sommige opsigte kan ’n Christentuiste baie soos ’n geestelike verkennerskamp wees. Die Bybel moedig ouers aan om ’n positiewe omgewing, wat groei bevorder, vir hulle kinders daar te stel. Ouers word opgeroep om “hulle [kinders] groot te maak met tug en vermaning soos die Here dit wil” (Efesiërs 6:4). Om “groot te maak” beteken om die kinders op te voed en die nodige hulpmiddels vir hulle fisiese, verstandelike en geestelike behoeftes daar te stel. Om “op te voed” sluit alle aspekte van die kind se ontwikkeling in. En “vermaning” beteken om met welgekose woorde riglyne te gee, soos wat elke indiwiduele kind dit nodig het. Kom ons strewe daarna om ons woning ’n plek te maak waar liefdevolle dissipline elke kind help om hulle volle potensiaal tot eer van God te bereik.