Toe ons kleindogter, Julia, nog baie klein was, het ons by geleentheid ’n rit oor die Idaho berge onderneem. Na afloop van die “avontuur” het sy en haar Nana oor die avontuur gesels. “Ek was nie bekommerd nie” het Nana gesê “want ek dink Papa het ’n engel wat hom beskerm.” “Ek dink hy het ’n hele leërmag van engele,” het Julia geantwoord. Die taak van engele is om die kinders van die Here te beskerm en te dien (Hebreërs 1:13-14). Die psalmdigter verklaar: “Die skitterende strydwaens van God was duisende, duisende der duisende” (Psalm 68:18) en die Here is by hulle. God is die “Here van die Leërskare” en die engele is God se leërmag. Ons lees in 2 Konings van die geval toe Elisa en sy dienskneg omring was deur die leërmag van Sirië. Angsbevange het Elisa se dienskneg uitgeroep: “Ag, Meneer! … Wat gaan ons nou maak?” Elisa het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Toe het die Here die dienskneg se oë geopen en hy het gesien dat “die berge rondom Elisa … vol perde en strydwaens van vuur” (2 Konings 6:15-17) was. Die Here se leërmag was byderhand! Al kan ons hulle nie met ons oë sien nie, kan ons gerus wees in die wete dat die Heer van die Leërskare altyd daar is en gedurig oor ons waghou. Sy onsigbare leërmag is altyd gereed om sy opdragte uit te voer net wanneer dit Hom behaag.