Die stad Hayward in Kalifornië het in 1931 sy eerste permanente stadsaal gebou. Dit het $100,000 gekos en die struktuur met sy Korintiese pilare en Roomse boogrelings, is as ’n wonderwerk beskou. Daar was egter een probleem – dit is op die Hayward Fault gebou en is geleidelik besig om is twee dele te skeur. In 1989 het ’n aardbewing veroorsaak dat dit gesluit moes word en dit is nou nie meer vir mense toeganklik nie. Om op ’n onstabiele fondament te bou, is beslis nie wyse optrede nie. Dit is ook waar van ons geestelike lewe. Jesus het hierdie waarheid aan sy dissipels met ’n illustrasie verduidelik. “Elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes” (Matteus 7:26,27). Die verskuiwing en verandering van morele waardes in die moderne wêreld kan verwarrend wees. Ons word soms versoek om toe te laat dat die opinies van die huidige samelewing ons besluite beïnvloed. Maar om die onveranderlike Woord van God te gehoorsaam, bring stabiliteit wat nêrens anders gevind word nie. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel … [is soos] ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het” (Matteus 7:24)