My vriend, Tim Davis, vertel graag van die geleentheid toe hy in Trinidad was en koningin Elizabeth die dorp besoek het. Hy onthou hoedat hy saam met sy ouers, wat sendelinge was, gegaan het en by die honderde wat langs die pad gestaan het, aangesluit het. Hy het sy vlaggie gewaai en gesien hoedat die entourage in die straat afgekom het – eers die soldate, toe die perderuiters en eindelik die voertuig waarin die koningin gesit het. Sy het deur die venster vir die juigende skare gewaai. Hy het gekyk hoedat die koningin uit die dorp weggery het, terwyl almal maar net dieselfde gebly het. Tim se woorde was: “Koninklikes het na ons dorp toe gekom en niks het verander nie!” Vir ons wat Jesus as Verlosser aangeneem het, was daar ook ’n dag toe koninklikes aangekom het – in ons harte. Paulus stel dit so: “Julle liggaam [is] ’n tempel van die Heilige Gees” (1 Korintiërs 6:19). Hierdie realiteit het ingrypende gevolge. Sy verblyf in ons is bedoel om ons lewens te verander, sodat ons eer aan Hom kan bring. Ons verhoudinge, die wyse waarop ons ons beroep beoefen en ons werk doen, ons geld, hoe ons teenoor ons vyande optree en al die ander dinge in ons lewe, behoort die wonderlike realiteit dat ’n koninklike in ons hart woon, te reflekteer. Het enigiets in jou lewe verander nadat Jesus in jou hart ingekom het? Kan die wêreld iets sien of dink hulle dat Hy maar net verbygegaan het?