Fay Weldon het ’n byna dodelike ondervinding in 2006 gehad toe haar hart skielik vanweë ’n allergiese toestand, gaan staan het. Sy het haar verhaal aan Elizabeth Grice van die Londonse koerant, Daily Telegraph, vertel. Sy het gesê dat ’n “verskriklike gedrog” probeer het om haar deur die pêrelpoorte te sleep, terwyl dokters gespook het om haar aan die lewe te hou. Later erken sy: “As dit is wat sterwe is, wil ek nooit weer daardeur gaan nie.” Dis maar net “meer van dieselfde – die worsteling en stryd.” Ja, dikwels is die proses van sterwe ’n worsteling. Nogtans hoef ons die dood nie te vrees nie, nie as ons in Christus glo en sy kind is nie, want die sterwe bring ons in die hemel. In Openbaring gee Johannes vir ons ’n wonderlike beskrywing van hoe dit in die ewigheid saam met Christus sal wees (Openb. 21:1-4). Hy sien hoe die Nuwe Jerusalem vanuit die hemel neerdaal. Die stad Jerusalem is ’n fisiese teken van die kinders van God en is beskrywe as die plek waar God woon (Psalm 76:3). Die Nuwe Jerusalem sal egter nie deur mensehande gemaak word nie. Dit sal ’n plek wees waar die Here met sy kinders woon en waar daar geen pyn, siekte en hartseer sal wees nie, Ons weet nie baie van die ewigheid nie, maar ons weet wel dat vir die Christen al die worstelinge, stryd en hartseer van die hede, verby sal wees. Die lewe by die Here sal baie beter wees. Ons hoef die dood nie te vrees nie.