Die Chester Beatty biblioteek in Dublin Ierland, het ’n uitgebreide versameling van antieke Bybelse fragmente wat uit die tweede eeu n.C dateer. Een fragment wat daar vertoon word, is ’n gedeelte van Handelinge 17:16. Hierdie boodskap wat op die antieke fragment vertoon word, is vandag nog net so aktueel soos vandag se koerant. Dit lui: “Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is.” Paulus was ontsteld en kwaad dat die afgode so in die stad opgehemel word. Ek is seker dat Paulus net so ontsteld sou wees as hy sou sien hoe dit vandag hier met ons gaan. Die afgode wat ons egter vandag in die wêreld sien, is baie anders as die afgode in Paulus se tyd. Miskien is dit rykdom, roem, mag, atletiek, kunste, politiek – maak nie saak wat dit is nie, die wêreld is vol daarvan. Soos altyd is ons geestelike vyand, die Satan, besig om ons van God weg te lei sodat ons valse gode kan aanbid. Selfs Christene is nie hierteen gevrywaar nie, en daarom moet ons gedurig op ons hoede wees en nie met selfgeregverdige woede teen ongelowiges optree nie, hulle wat ander gode aanbid en nie die Here nie. Ons behoort ook deur Christus se liefde gedring te word sodat ons met deernis kan uitreik na hulle wat Hom nie ken nie. Dan mag hulle miskien, soos die gelowiges in Tessalonika, hulleself “tot God bekeer … en … die lewende en ware God dien” (1 Tess. 1:9)