Een van my vriende is leraar by ’n klein gemeente hoog in die berge naby Boise in Idaho. Die gemeenskap lewe in ’n boomryke vallei, waardeur ’n stroompie rustig voortvloei. Agter die kerkie en langs die stroom is daar ’n klompie wilgerbome, ’n grasryke area en dan ’n rustige strandjie. Dis ’n idilliese area en baie lank reeds die plek waar lede van die gemeenskap graag piekniek hou. Eendag het ’n gemeentelid kommer uitgespreek oor wat die wetlike implikasies sou wees as ’n “buitestaander” die terrein gebruik en moontlik beseer word. “Indien dit gebeur mag die gemeente dalk gedagvaar word,” het hy beweer. Alhoewel die ouderlinge traag was om dit te doen, het die man hulle tog oortuig dat ’n kennisgewing aangebring moes word wat duidelik verklaar dat dit private eiendom is. Die volgende kennisgewing is toe opgesit: “Waarskuwing! Enigeen wat hierdie strand benut, mag enige oomblik omring word deur mense wat jou liefhet en vir jou omgee!” Ek het hierdie kennisgewing gelees die week nadat die pastoor dit opgesit het en dit het my diep geraak. “Presies” het ek gedink. “Weereens het genade oor die wet getriomfeer!” Die liefde vir die naaste spruit voort uit die goedheid en genade van God, en sy geduld en verdraagsaamheid teenoor ons. Dis nie die wet wat mense na God toe trek nie, maar die genade van God wat manne en vroue tot bekering en geloof in Jesus Christus bring (Romeine 2:4).