Kan ons regtig weet of ons die gebeure in die lewe goed of sleg kan noem? Byvoorbeeld, jou motor breek net voordat jy en jou familie ’n reis wil onderneem. Jy neem dit na ’n motorhawe en die werktuigkundige sê vir jou: “Dis ’n goeie ding dat jy nie gery het nie. Die motor kon aan die brand geslaan het.” Is dit sleg omdat dit vir jou ongerieflik is, of is dit die Here wat jou beskerm het? Of miskien het jy ’n kind vir wie jy sekere ideale koester. Jy wou hê sy moes basketbal speel en aan wedrenne op hoërskool deelneem, maar sy het ander ideale gehad. Sy wou sing en ’n musiekinstrument bespeel. Jy voel gefrustreed, maar dan blink sy so uit en verwerf eindelik ’n studiebeurs vir haar musiek. Is dit sleg omdat jou drome nie vervul is nie, of is dit goed omdat die Here haar gelei het op weë waaraan jy nooit gedink het nie? Somtyds is dit moeilik om te verstaan hoe die Here werk. Sy geheimenisse word nie altyd vir ons duidelik en verstaanbaar nie en ons lewensreis word dikwels op eienaardige ompaaie voortgesit. Miskien is dit juis omdat God aan ons ’n beter roete wil wys. Om seker te maak dat ons kan baat by die gebeure wat aanvanklik vir ons sleg en ontstellend lyk, moet ons nooit God se “troue liefde” (Ps.13:5) vergeet nie. Aan die einde sal ons met dankbaarheid kan sê: “Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het” (Ps. 13:6).