Somtyds is daar mense wat vir die Here lewe, maar eintlik ’n kontrak geloof het. Hulle dink dat omdat hulle tyd en krag aan die werk van God bestee, moet hulle spesiale behandeling ontvang en erkenning verkry. Dis egter nie die geval met my vriend, Douglas, nie. Hy het as ’t ware in baie opsigte ’n Job’s ervaring gehad. Hy het teleurstelling en mislukking in sy bediening ervaar. Sy vrou is aan kanker dood, hyself en een van sy kinders is deur ’n dronk bestuurder raakgery, maar nogtans sê Douglas: “Moenie God met die lewe verwar nie.” Wanneer probleme opduik en twyfel oorneem, wend ek my dikwels na Romeine 8. “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” (Romeine 8:35). In daardie een sin gee Paulus as ’t ware vir ons die outobiografie van sy bediening. Hy het beproewinge en lyding ter wille van die evangelie verduur; nogtans het hy geglo dat die “dinge” wat nie op sigself goed is nie, nogtans deur God ten goede gebruik kan word. Hy het geleer om verby die probleme te kyk en ’n liefdevolle God raak te sien, ’n God wat eendag oor alles sal triomfeer. Daarom skryf hy: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe, of engele of magte … kan ons van die liefde van God skei nie” (Romeine 8:38,39). Sodanige geloof en vertroue kan ’n mens help om teleurstellings en moedeloosheid te oorkom, al sien ons dat die lewe nie uitgewerk het soos ons dit graag sou wou hê nie. –