God het ’n wyse en liefdevolle plan waarom Hy ons hier op aarde laat. Daar is werk wat wag, en dit kan slegs hier op aarde gedoen word. Ons beproewinge wat maar slegs vir ’n oomblik is, is besig om vir ons “’n heerlikheid wat alles verreweg oortref” (2 Kor. 4:17) te bewerk. Daar is ander wat ons bystand nodig het – al is dit net om hulle lief te hê en vir hulle te bid. Ons teenwoordigheid mag miskien ook aan ander die geleentheid gee om te sien wat liefde regtig is. Ek het ’n goeie vriend wat vir baie jare sendeling in Suriname was. Gedurende sy laaste jare het hy siek geword en is hy verlam. By tye het hy gewonder waarom die Here hom op aarde laat bly en hom nie wegneem nie. Hy het so verlang om na sy Here en Meester te gaan. Miskien is die lewe in hierdie stadium vir jou, of ’n geliefde, moeilik en jy wonder heimlik waarom die Here jou nie kom haal nie. Toe Jesus gesê het dat Hy hemel toe gaan, het Petrus gevra: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie?” (Joh. 13:37). Jy wonder miskien ook, net soos Petrus, waarom jy nie nou hemel toe kan gaan nie. Jy vra ook: “Waarom nie nou nie?” Dus, alhoewel jy verlang om verlos te word, nie net jy nie, maar ook een van jou dierbares, onthou dan dat om in die vlees te lewe beteken dat jy vrugbaar kan wees. En daar is troos, al moet jy wag. God het beslis sy redes.