Een van die slimste persone wat ek ken, is ’n ou universiteitsvriend wat ek ontmoet het toe ons albei aan universiteit studeer het. Hy het sy graad met lof verwerf en na ’n seminarium gegaan om verder te studeer. Hy is na ’n klein gemeente beroep waar hy ’n paar jaar gedien het. Later is hy na ’n ander klein gemeente, ver van familie en vriende af waar hy 12 jaar gewerk het. Toe het hy aangevoel dat die gemeente nuwe leierskap nodig het en daarom het hy bedank. Hy is nie weer beroep nie, trouens hy het nie eers ’n ander werk by ’n universiteit of seminarium gehad nie. Om die waarheid te sê, hy was werkloos. Tog het hy geglo dat die Here iets anders vir hom in gedagte het. Toe ons dit bespreek het, het hy gesê: “Weet jy, baie mense sê hulle is na of vir ’n spesifieke taak geroep, maar ’n mens hoor selde dat iemand weggeroep is van iets.” In baie opsigte was my vriend se gehoorsaamheid baie soos dit wat met die patriarg Abram gebeur het, toe hy in gehoorsaamheid aan God, alles verlaat het, weggetrek het sonder om te weet waarheen God hom sou lei (Hebr. 11:8-10). Baie probleme, soos hongersnood (Gen. 12:10), vrees (vs. 11-20) familieprobleme (Gen. 13:8) was redes om te twyfel, nogtans het hy volhard en vanweë sy geloof het God hom as ’n regverdige beskou (Galasiërs 3:6). ’n Lewe van gehoorsaamheid mag nie altyd maklik wees nie, maar wees verseker, dit is geseënd, en die moeite werd (Lukas 11:28).