Ek het hierdie woorde op ’n jong dame se persoonlike webwerf gelees: “Ek wil net iemand hê wat my sal liefhê – en hy moet verbasend wees!” Is dit nie wat ons almal wil hê nie – dat ons bemin moet word deur iemand wat regtig omgee? En dit sal soveel beter wees as hy of sy iemand besonders is. Iemand wat volkome aan daardie beskrywing voldoen, is Jesus Christus. In ’n daad van ongelooflike liefde, het Hy as ’n baba na hierdie wêreld gekom – dié Baba wie se geboorte ons op Kersdag gedenk (Lukas 2). En nadat Hy ’n perfekte, sondelose lewe gelei het, het Hy sy lewe aan die kruis as ’n offer aan God gegee, ter wille van ons (Johannes 19:17- 30). Hy het ons plek geneem sodat ons gered kan word van sonde en die doodstraf wat op ons wag. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Drie dae later het God Hom uit die dood opgewek en aan Hom die lewe gegee (Matt. 28:1-8). Wanneer ons berou het oor ons sondes en tot bekering kom, ontvang ons Jesus se wonderlike liefde, Hy wat ons Verlosser geword het (Joh. 1:12; Romeine 5:9), ons Here (Johannes 13:14), Leermeester (Matt. 23:8) en Vriend (Johannes 15:14). “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God” (1 Joh. 3:1). Verlang jy ook na iemand wat jou regtig lief sal hê? Jesus het ons so lief, meer as enigiemand anders. En Hy is werklik Iemand besonders.