Die leeus wat in Kenia se Masai Mara wildreserwe rondgelê het, het baie rustig voorgekom. Hulle het op hulle rûe rondgerol in die gras en bossies en het hulle gesigte teen takke gevryf, asof hulle hulle pragtige maanhare wou kam. Ewe rustig het hulle uit die nabygeleë stroom gedrink en oor die terrein heengestap asof hulle al die tyd in die wêreld het. Die enigste keer dat ek hulle tande gesien het, was toe een van hulle gegaap het. Hierdie rustige toneel is egter baie bedrieglik. Die rede waarom hulle so rustig voorkom, is omdat hulle niks te vrees het nie – geen tekort aan kos en geen natuurlike vyande nie. Die leeus lyk so lui en rustig, maar hulle is die sterkste en gevaarlikste van alle diere en slegs een gebrul sal al die diere in die omgewing op loop jaag. Soms wil dit voorkom asof die Here ook sy tyd neem en rustig rondbeweeg. Ons sien nie wat Hy doen nie en daarom dink ons Hy doen niks nie. Ons hoor hoedat mense Hom bespot en sê dat Hy nie bestaan nie en ons wonder soms gespanne waarom Hy Homself nie verdedig nie. Maar die Here “sal Hom nie laat afskrik” nie (Jesaja 31:4). Hy het niks te vrees nie. As Hy brul, sal al sy vyande, soos knaagdiere, die loop neem. As jy wonder waarom God nie bekommerd is wanneer jy ontsteld is nie, onthou dan dat Hy alles beheer. Hy weet dat Jesus, die Leeu van Juda, sal triomfeer.