So dikwels ontdek ek dat ek aan die kwessie van geloof dink. Ek staan by ’n lughawe en sien hoedat welgeklede persone in deftige pakke heen en weer skarrel, aktetasse onder die arm vasgeklem. Ek sien hoedat hulle by koffiestalletjies plaasneem, vinnig ’n koppie koffie geniet en dan voortjaag na die volgende vergadering. Dan wonder ek: Sou enige van hulle ooit aan die Here dink? Christene het die eienaardige geloof in twee verskillende wêrelde. Die een wêreld bestaan uit glas en staal, wolklere, leer aktetasse en die geur van varsgemaalde koffie. Die ander een bestaan uit engele en geestelike magte en plekke ver weg wat hemel en hel genoem word. Ons bewoon tans die materiële wêreld en dit vereis geloof om onsself as ’n burger van die ander, onsigbare koninkryk te beskou. Kersfees doen iets verbasends en vertel van die worsteling wat plaasgevind het toe die Here van beide wêrelde, na die materiële wêreld gekom het en bereid was om volgens die reëls van hierdie een te lewe. In Betlehem egter het die twee wêrelde ineengevloei. Wat Jesus hier op planeet aarde gedoen het, het dit moontlik gemaak dat die strydpunte tussen die twee wêrelde eendag opgelos en uit die weg geruim sal word. G’n wonder dat die engele spontaan gesing het en nie net die skaapherders beïnvloed het nie, maar die hele hemel en aarde verander het (Luk. 2:13-14).