Newgrange is ’n grafkelder in Ierland wat 5,000 jaar oud is. Dis gebou deur ’n boerderygemeenskap in die Boyne Vallei. Die besondere struktuur strek oor meer as ’n akker, en in vroeër jare het mense soontoe gegaan om met die kwessie van die dood te worstel. Dis veral bekend vir ’n sonstraal, wat vir 17 minute elke dag, tussen 19 en 23 Desember, die kortste dae van die jaar, deur die grafkelder beweeg. Sommige beweer dat dit ’n kragtige simbool van die oorwinning oor die finaliteit van die dood is. Vandat die dood in Genesis 3 die menslike geskiedenis binnegekom het, is dit steeds die een groot onafwendbaarheid en baie mense se grootste vrees. Dit hoef egter nie so te wees nie. Paulus skrywe: “Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer … maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer” (Romeine 5:17). Vanaf daardie oomblik toe ons eerste voorouers in die Tuin van Eden gesondig het, het die sonde en die dood in die wêreld regeer. Nogtans hoef ons nie die dood en alles wat dit meebring, te vrees nie. As gevolg van wat Christus gedoen het, kan ons met hoop voortgaan, want sy oorwinning oor die dood het aan ons die ewige lewe gegee. Die vraag is egter: Het jy Hom al as jou persoonlike Saligmaker aanvaar?