“Enige dwaas kan ’n rusie begin” (Spreuke 20:3). “Die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet” (Spreuke 10:7). “Wie hom nie laat teregwys nie, is ’n dom mens” (Spreuke 12:1). Is dit reg dat God se Woord mense dwaas, dom en ’n huigelaar (Spr. 10:18) noem? Is God dan nie ’n liefdevolle God nie? Ja, beslis, God is liefde. Hy het die wêreld geskep met wonderlike moontlikhede vir vreugde en vrede. Nogtans herinner God ons aan die feit dat sy liefde nie sommer dwaasheid en onverantwoordelikheid oorsien nie. Hy is besorg oor wat in ons hart aangaan. Daarom herinner die woorde in Spreuke ons dat omdat God ’n God van liefde is, Hy groot verwagtinge vir ons het. Die lewe is moeilik vir diegene wat allerhande probleme oor hulle eie pad bring. Elke negatiewe woord in Spreuke het ook ’n positiewe teenbeeld – ’n alternatief wat ’n positiewe leefwyse aanbeveel, ’n leefwyse wat God verlang. ’n Dwaas stry en baklei, maar ’n eerbare man vermy rusie (Spreuke 20:3). “Die naam van die wat verkeerd doen, word gou vergeet … maar dié wat reg doen leef voort” (Spr. 10:7). Die dwaas wil hom nie laat teregwys nie, maar die wyse persoon wil graag kennis ontvang (Spreuke 12:1). Daar is altyd ’n keuse moontlik in hierdie lewe – om God se weë te volg of om as dwaas te lewe en vernietig te word. God se Woord is taai en teer. Wat kies jy?