Die Geheime Diens van die VSA het in 1865 tot stand gekom. Wat was hulle doel? Om alle vervalsers aan te keer en sodoende die dollar te probeer beskerm en ook Amerika se nasionale ekonomie. Hierdie besondere groep, wat die wet moes handhaaf, het in 1902 ’n nuwe rigting ingeslaan. Hulle het bekend geword as die beskermers van die President van die Verenigde State, alhoewel hulle taak nog ander opdragte ook ingesluit het. Die veranderde rigting wat die Geheime diens in Amerika ingeslaan het, is niks in vergelyking met die veranderde lewens van die bekeerlinge van Tessalonika nie. Hulle het ’n geestelike belewenis gehad, wat hulle lewens geheel en al verander het en hierdie verandering is deur mense in die omgewing en ver weg opgemerk. Paulus skryf: “Julle [het] julle van die afgode tot God bekeer” (1 Tess. 1:9). Hy skryf verder: “Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God” (1 Tess. 1:8). Die verandering van rigting wat hulle getoon het, was dramaties, om die minste daarvan te sê. Hulle het die aanbidding van afgode laat vaar en in verhouding getree met die lewende en ware God. En mense oral het die verskil in hulle lewens raakgesien. Ek wonder soms – sien mense so ’n verandering in ons lewens, in jou en my lewe? Het ons al ’n hartsverandering gehad?