My vriende het ’n huis langs die meer. Teen die muur is ’n verskeidenheid foto’s van ’n sonsondergang wat vanaf die huis, gedurende verskillende seisoene geneem is. Alhoewel elkeen asemrowend mooi is, is nie een dieselfde nie. Wanneer ek na die foto’s kyk, dink ek aan wat ’n vriend van my ’n sonsondergang genoem het: “God se pragtige handtekening aan die einde van die dag.” God plaas sy handtekening op elke sonsondergang, maar ook op elkeen van sy unieke kinders. Ek word nooit moeg om te ontdek dat elke persoon wat ek ontmoet so wonderlik anders is nie. Die Here is ongelooflik kreatief en die verskeidenheid van ons persoonlikhede, humor, talente, of voorkeure ten opsigte van musiek en sport, ja alles, is deur Hom bepaal. In die liggaam van Christus sien ons hoe ’n diversiteit van geestelike gawes ’n gemeenskaplike band kan hê en saamwerk tot eer van God en Hom verheerlik. Ons lees in 1 Korintiërs 12:4-6: “Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here … daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.” God se handtekening wat so duidelik in die natuur gesien word, is ook op sy kinders sigbaar. Kom ons verheug ons in die verskeidenheid wat elkeen van ons uniek maak.