Het jy al gehoor dat twyfelaars beweer die Christelike geloof is niks meer as ’n kruk nie – die enigste rede waarom mense in Christus glo, is omdat hulle swakkelinge is wat hulle eie “godsdiens” moet skep, sodat hulle kan oorlewe? Waarskynlik het daardie twyfelaars nie gehoor van die Christen geneesheer in ’n land in die Verre Ooste wat twee en ’n half jaar in die tronk deurgebring het, sodat hy “heropgevoed” kon word. Toe, kort na sy vrylating, is hy weer gearresteer vir sy optrede in sy gemeente. Miskien het daardie twyfelaars nog nooit van Paulus gehoor nie. Nadat hy Jesus as Verlosser aangeneem het, is hy gearresteer, geslaan, bespot en het hy byna verdrink toe die skip waarin hy gevaar het, gesink het (2 Kor. 11:16-29). Hierdie Christene het nie ’n kruk gesoek sodat hulle staande kon bly nie. Nee, hulle het iets kosbaars in hulle harte gehad. Hulle het ’n persoonlike verhouding met God gehad, gebaseer op wat Jesus aan die kruis gedoen het. As gevolg daarvan het hulle kinders van God geword – bereid om alles op te offer om sy boodskap uit te dra. Hulle het beslis nie voortgesukkel en gesoek na ’n kruk waaraan hulle kon vasklou nie. ’n Kruk? Beslis nie. Geloof in Christus gaan nie oor veiligheid of voorsorgmaatreëls nie. Dit gaan oor geloof in Jesus ongeag wat gebeur. Dis om daagliks die kruis op te neem (Luk. 9:23) en vir Hom te lewe. –Dave Branon