Mense hou daarvan om goed te versamel, soos byvoorbeeld seëls, muntstukke en so aan. Alhoewel dit ’n aangename stokperdjie kan wees, sal alles eendag, wanneer ons die aarde verlaat, iemand anders s’n word. Wat sou dit jou baat om baie hier op aarde te versamel, maar niks in die ewigheid te belê nie? Jesus het ook iets oor hierdie saak te sê gehad. Toe hy eenmaal met sy dissipels gepraat het, het Hy gesê: “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en dit steel nie” (Matt. 6:20). Ewige skatte verloor nooit hulle waarde nie. Dit kan nie gesteel word, of bederf nie. En dink net hoe wonderlik – ons kan ewige skatte opgaar! Hoe doen ons dit? Deur dienslewering. Deur ander na Jesus te lei, deernis te betoon aan dié wat niks het nie en die wil van Jesus te doen en na sy voorbeeld te lewe. Ons lees in die evangelie van Markus hoe Jesus die ryk jongman getoets het, deur hom te beveel om alles wat hy het aan die armes te gee en Jesus te volg. Die reaksie van die jongman het getoon wat eintlik vir hom belangrik was (Matt. 10:20-21). Dis so maklik om deur die dinge van die wêreld in besit geneem te word, maar wanneer jy die keuse uitoefen om Jesus te volg, sal Hy vir jou die ware skatte aantoon en hoeveel vreugde die versameling daarvan meebring. Niks kan daarmee vergelyk word nie.