Rubriekskrywer, Mitch Albom, het op 30 September 2009 in die Fox Teater in Detroit, Michigan, ’n onderhoud met Ernie Harwell, een van die mees geliefde persone in Amerikaanse sport, gevoer. Harwell het vir meer as 50 jaar as aankondiger vir die Detroit Tigers bofbalspan en ander sportspanne opgetree. Sy vriendelikheid, nederigheid en besondere warmte as uitsaaier, het ’n diepe indruk gemaak op almal met wie hy in aanraking gekom het. Toe Albom die onderhoud met Harwell gevoer het, was hy reeds 91 jaar oud en hy het Albom ingelig dat hy ongeneeslike kanker het. Maar terwyl hy gepraat het, het Ernie beslis nie simpatie gesoek nie. Inteendeel, hy wou graag praat oor die nag in 1961 toe hy Jesus as Verlosser aangeneem het. En terwyl hy hierdie laaste keer die geleentheid gehad het om in die publiek te praat, het hy gesê: “Ek weet nie hoeveel dae ek nog oorhet nie … maar ek weet beslis in wie se arms ek eindelik sal beland en hoe wonderlik dit sal wees om die hemel binne te gaan.” Ernie het uitgesien na iets baie spesiaals! Hy het geweet dat God ’n ewige en heerlike tuiste vir hom beplan het (Joh. 14:2,3; Filip. 1:21-23) en daarom kon hy die dood vreesloos tegemoetgaan. Is dit ook jou verwagting en oortuiging? Glo jy dat Hy wag om jou in sy arms te verwelkom? Eindelik is dit al wat regtig saak maak. Maak dus seker van jou ewige tuiste.