Ons is geneig om ons lewe in kompartemente in te deel. Ons vul ons dae met aktiwiteite soos ons werk, boodskappe aflewer, opdragte uitvoer en kinders versorg. Dan probeer ons nog om tyd in te ruim vir “geestelike” aktiwiteite, soos om kerk toe te gaan, kleingroepe te hanteer en persoonlike stiltetyd te hou. Ek bemerk nie in die Psalms dat sodanige onderskeid gemaak word nie. Dawid en die ander psalmdigters het daarin geslaag om God in die sentrum van hulle lewens te plaas. Vir hulle was aanbidding die sentrale tema van die lewe, nie net iets wat deurgeworstel moes word sodat ander aktiwiteite aangepak kon word nie. Dis vir ons nodig om God in elke situasie toe te laat. Vir my het die Psalms die motivering geword om God in die sentrum van die lewe toe plaas. Die psalmdigters het ’n dringendheid, ’n verlange en ’n honger na die Here, wat my verlange na Hom maar onbenullig laat lyk. Hulle verlange na God was soos ’n “gesmag na waterstrome” soos wat “’n wildsbok smag na waterstrome” (Ps. 42:1-2). Hulle het snags wakker gelê en gedroom om “die hele lewe lank in sy huis [te] mag woon” (Ps. 27:4). Hulle sou liewer een dag is sy teenwoordigheid deurbring as duisend jaar iewers anders (Ps. 84:11). Hierdie digters was in die “gevorderde skool” ingeskryf. Miskien sal iets hiervan aan ons afvryf as ons die Psalms noukeurig bestudeer.