Terwyl ons as gesin op Dankseggingsdag om die tafel gesit het, en ’n heerlike maaltyd geniet het, het ek geglimlag toe ek opgemerk het watter verskillende talente daar verteenwoordig was. Aan die een kant het dokters gesit en aan die ander kant musikante. Danksy dokters word liggaamlike probleme opgelos en danksy musikante word pragtige klanke voortgebring wat die gees versterk en die moedelose opbeur. Alhoewel hulle take baie verskil, is dokters en musikante van ’n ordelike samelewing afhanklik. Sonder orde sal daar geen voorspelbaarheid wees nie, en sonder voorspelbaarheid is daar geen musiek en medisyne nie. Binne ons ordelike wêreld is siekte ’n teken dat iets “buite orde” is. Genesing is ’n teken dat God eendag alle dinge tot hulle oorspronklike toestand sal herstel (Hand. 3:21). Toe Johannes die Doper wou weet of Jesus die een was wat sou kom, het Jesus gesê: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (Lukas 7:20-22). Genesing was die bewys dat Jesus Israel se Messias is (Maleagi 4:2). Ek is so dankbaar vir pragtige musiek wat my besorgde gemoed kalmeer, en vir medisyne wat my siek liggaam genees, want dit herinner my aan die uiteindelike genesing wat Christus besig is om te volbring.