Terwyl ek en my vrou eendag deur ’n inkopiesentrum gestap het, het ons by ’n afdeling gekom waar T-hempies uitgestal was. Terwyl ons na die uitstalling gekyk het en geglimlag het vir sommige van die komiese stellings op die T-hemde, het ons een gesien wat ontstellend was. Daarop was geskryf: “So Baie Christene, So Min Leeus.” Daardie hempie, met die verwysing na die eerste Christene wat dikwels vir die leeus gegooi is, was glad nie vir ons snaaks nie. Vervolging van Christene is beslis nie iets om oor te lag nie. Nie lank voordat daardie dapper Christene die dood tegemoet gegaan het, skryf Paulus: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:12). Vervolging van Christene is onafwendbaar, en dit behoort ’n kwessie van ernstige kommer vir alle Christene te wees. Trouens op hierdie oomblik word Christene in baie lande terwille van Jesus, vervolg en gemartel. Wat kan ons daaraan doen? Eerstens moet ons bid dat die Here hulle versterk in hulle lyding. Tweedens kan ons die families van martelare help en diegene wie se broodwinners in die tronk is, ondersteun. Derdens moet ons bid dat ons die moed sal hê wanneer vervolging na ons toe kom. Toe Paulus in die tronk gestop is, het sy moed ander tot geloof gelei. Wil jy die vervolgde kerk bemoedig? Bid en verkondig die boodskap waarvoor Christene ly.