Toe my dogter en haar familie ’n tydjie by ons gekuier het, het ek my seun en twee skoonseuns op ’n manne uitstappie geneem. Ons het besluit dat terwyl die vroue inkopies doen, sou ons gaan skyfskiet. Ons het twee pistole gehuur en na ons teikens gemik. Terwyl ons geskiet het, het al vier van ons agtergekom dat een van die wapens verkeerd ingestel was en te laag geskiet het. Indien ons daardie wapen gebruik en op die korrel gemik het, het ons elke keer die onderpunt van die kol getref. Ons moes heelwat hoër mik as ons die kol wou tref. Is die ou lewe nie baie dieselfde nie? As ons ons doelwitte te laag stel, kan ons nie alles bereik waarna ons streef en wat ons graag wil doen nie. Somtyds moet ons baie hoog mik om ’n sekere doel te bereik. Wat behoort die doel van ons lewe te wees? Hoe hoog moet ons mikpunt wees? Wel, aangesien die Bybel ons riglyn is, behoort ons na niks minder as geestelike volwassenheid te mik nie. Toe Paulus van die mense in Korinte afskeid geneem het, het hy gesê: “Streef na geestelike volwassenheid” (2 Kor. 13:11). En ons Here Jesus het vir ons dieselfde doel voor oë gestel. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:48). Volmaaktheid is ’n hoë doelstelling en ons sal dit nie in hierdie lewe bereik nie. Maar as ons God wil vereer en naby aan daardie doel kom, moet ons hoog mik.