Verskeie jare gelede het ’n vriend my saamgeneem na ’n motiverings seminaar wat ek ongelooflik geniet het. In plaas van om op geld en sukses te fokus, het die sprekers ons gelei om ons eie identiteit en doel in die lewe behoorlik te verstaan. Hulle het goeie raad gegee hoe om effektief te leef. Een van die slagspreuke wat my bygebly het, is: “Doen dit nou!” Hulle het aangetoon dat dit net soveel energie vereis om ’n taak uit te stel of te vermy as wat dit vra om dit te doen. Uitstel vereis krag; om iets af te handel gee verligting. Ons vind ’n geestelike toepassing in Hebreërs 3, ’n gedeelte wat fokus op die dringendheid om die Here te gehoorsaam. “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie maar … julle [moet] mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3: 8,13). Die Afrikaanse spreekwoord sê: “Van uitstel kom afstel.” Ons weet nie hoe lank dit die kinders van die Here sou geneem het om die Beloofde land in te gaan nie, maar die feit dat hulle ongehoorsaam was, het daartoe gelei dat hulle vir 40 jaar in die woestyn rondgedwaal het. ’n Hele geslag het die wonderlike avontuur om die beloofde land in te gaan, misgeloop. Wanneer ons weet hoe die Here wil hê ons moet lewe, waarom sê ons nie sommer dadelik “ja” nie! Geen redenasies en uitstel nie.