Een van die grootste probleme wat ons verhinder om deernis aan ander te betoon, is omdat ons vooraf oordeel of iemand ons hulp waardig is of nie. Jesus het ’n gelykenis vertel om hierdie probleem aan te spreek toe iemand hom gevra het: “En wie is my naaste?” (Lukas 10:29). Wie kwalifiseer om ons deernis en hulp te verdien? Jesus het vertel van ’n man wat op die gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gereis het. Hy is deur rowers aangeval, beroof, geslaan en vir dood agtergelaat. Godsdienstige Jode, ’n Leviet en ’n priester, het daar aangekom, die man gesien maar anderkant verbygeloop, waarskynlik bang dat hulle geestelik onrein sou word. Maar toe kom ’n Samaritaan daar verby en hy het onvoorwaardelike deernis met die beseerde getoon. Jesus se toehoorders sou waarskynlik geskok gewees het, want Jode gaan nie met Samaritane om nie. Die Samaritaan kon besluit het om die gewonde te ignoreer omdat hy ’n Jood was. Maar hy het nie sy deernis en plig teenoor sy naaste versuim nie, maar die gewonde man gehelp. Hoe is dit met jou barmhartigheid en goeie dade gesteld? Gee jy net aan diegene wat in jou oë waardig is om gehelp te word? As volgelinge van Jesus behoort ons deernis en barmhartigheid aan alle mense te betoon, ongeag hulle situasie. Trouens ons behoort meer uit te reik, juis na hulle vir wie ons as onwaardig beskou.