Indien ons nie versigtig is nie, kan dit met ons gaan soos met die man wat daarop geroem het dat hy ’n bedrewe boogskutter was. Die geheim van sy sukses was egter dat hy, nadat hy ’n pyl teen die waenhuis vasgeskiet het, ’n sirkel daarom getrek het en beweer het dat dit die kol was wat hy getref het. Dis so maklik om die lewe deur te gaan en te doen wat ons wil met die gedagte dat ons altyd die kol tref terwyl die realiteit heel anders is. Ons lees in Spreuke 14:12 die woorde: “Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” Somtyds voel dit vir ons geregverdig om vergelding te soek, geld op te gaar, plesier na te jaag en te gil vir mense wat ons beledig. Maar die Here se weë is anders as ons weë en sy maniere as ons s’n. Hy het ’n kol geteken op vergifnis, dat ons diegene wat ons seergemaak het vergewe, dat ons gee vir diegene wat nie het nie, dat ons lewe om Hom te verheerlik en nie onsself te plesier nie. Daarom behoort ons te bid: “Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid” (Psalm 86:11). Ons mikpunt behoort te wees om te doen wat Hy vra. Maar ons het sy hulp nodig om op die regte kol te fokus. Gelukkig weet ons wat die kolskote is, dis in die Woord beskrywe. Indien ons ons lewens op die Bybel rig, sal ons spoedig ontdek dat sy weë reg is en dat ons elke keer die kol sal tref.