Die golwe van die Michiganmeer was onstuimig en het oor die hawehoof gestroom. Ek het ’n jong gesin gevolg terwyl hulle onderweg was na die vuurtoring. Ek het gehoor hoedat die jong dogter aan haar pa sê: “Pappa, jy moet naby my bly asseblief en my hand styf vashou. Hierdie deel is baie gevaarlik.” Ja, somtyds kan die ou lewe vir enigeen van ons vrese inhou. Die afsterwe van geliefdes, of miskien is dit finansiële probleme, of dalk gesondheidsprobleme. Terwyl ons hierdie sware laste dra, verlang ons so na ’n sterke hand om ons vas te hou en te onderskraag. Toe Josua die leierskap van Israel by Moses oorgeneem het, het Moses hom daaraan herinner dat God in moeilike tye daar sal wees vir hom. In daardie dae moes Josua op die Here en sy beloftes vertrou. Moses het gesê: “Die Here sal voor jou uit gaan … . Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie” (Deuteronomium 31:8). Jesaja 41vers 13 gee nog bemoedigende woorde: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou.” Wanneer die lewe moeilik word en probleme opduik, kan ons aan sy sterk hand vashou. Die volgende lied van Lowell Alexander herinner ons aan God se teenwoordigheid: “Jy mag steil berge op die lewensweg teëkom, woestyne en diep valleie oorkom; soms is die reis maklik, soms is die winde koud, maar ek wil hê jy moet onthou – jy’s nooit alleen nie, Jesus is by jou.” Ja, Hy stap langs ons en hou ons hand vas, veral wanneer ons gevaarlike areas aandurf.