Onlangs is daar oor die radio ’n program aangebied waar oor die hantering van krisisse gepraat is. Hoe kan ’n beroemde persoon herstel na ’n verhoudingskrisis in openbare betrekkinge? Die spesialis het gesê die sleutel is om goeie vennote te hê, mense wat die persoon kan bystaan en onderskraag en help om sy of haar openbare beeld te herstel. Met ander woorde, wanneer iemand in ’n moeilike situasie verkeer is dit belangrik om die regte hulp te hê. Dis wyse raad, want dis belangrik om te weet dat ’n mens nie tydens krisistye alles op jou eie kan hanteer nie. Sommige uitdagings is net te groot, sommige berge te hoog. In ons almal se krisissituasies is dit noodsaaklik dat ons hulp sal hê. Daarom is dit so goed om te weet dat ons die beste moontlike Helper het. Dawid het van daardie Helper geweet. Hy verklaar: “In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep” (Psalm 18:7). Daar is geen beter helper in tye van nood as ons God nie. Hy alleen kan ons deur die krisisse en storms van die lewe dra en ons het sy wonderlike belofte dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Hebreërs 13:5). Wanneer krisisse kom, het ons nie nodig om alleen te staan nie. Ons het die beste hulp beskikbaar. Ons kan op God vertrou om ons in elke situasie by te staan. Steun op Hom. Hy’s daar vir jou!