Mense wat graag vriendelik wil wees sal soms vra: “Bly jy darem besig?” Die vraag lyk so onskuldig, maar dit dra tog ’n subtiele boodskap oor. Dis eintlik ’n toets van die persoon se persoonlike waarde. As ek nie ’n hele lys dinge kan opnoem wat ek nog moet doen nie, kan ek maklik voel dat ek nie juis veel werd is nie. Maar bepaal die Here ons waarde deur te kyk hoe besig ons is en wat ons al tot stand gebring het? Beloon Hy ons as ons voortdurend uitgeput is vanweë al die take wat ons op onsself lê en die feit dat ons nie na ons gesondheid omsien nie? Een van die Skrifgedeeltes wat ek as kind geleer het is Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” In daardie stadium het dit nie vir my so baie beteken nie, want ek het nie geweet wat dit beteken om uitgeput te wees nie. Maar noudat ek ouer word, voel ek die druk as ek probeer om met die wêreld se gang tred te hou. Volgelinge van Jesus behoort egter nie onder daardie druk te lewe nie. Jesus het ons nie net van die slawerny van sonde verlos nie, maar ook van die druk om te probeer bewys dat ons iets beteken. Om baie tot stand te bring mag ons belangrik laat voel. Maar wat ons regtig belangrik maak, is dit wat ons God toelaat om in ons te doen – om ons meer aan die beeld van sy Seun gelykvormig te maak (Rom. 8:28-30).