Byron Nelson, die professionele gholfspeler, het in 1945 ’n wonderlike seisoen beleef. Hy het aan 30 toernooie deelgeneem en 18 van hulle gewen – 11 van hulle opeenvolgend. Indien hy wou, kon hy sy loopbaan voortgesit het en die beste speler van alle tye geword het, en baie geld gemaak het, maar dit was nie sy doel nie. Hy wou net genoeg geld bymekaarmaak om ’n plaas te koop en die res van sy lewe te doen wat hy regtig wou doen. In plaas van om dus met sy loopbaan voort te gaan, het hy op die ouderdom van 34 afgetree en ’n boer geword. Hy het ’n ander doel gehad. Die wêreld mag Nelson se optrede as dwaas beskou. Dit verstaan nie dat ’n mens by rykdom en eer verby kan kyk en ware tevredenheid kan nastreef nie. Dis veral waar wanneer dit kom by ons besluit en keuse om vir Jesus te lewe. Maar dit is juis wanneer die wêreld na ons kyk en dit wat ons doen as dwaasheid beskou, dat hulle insien dat ’n kind van die Here ander doelstellings as die wêreldling het. Paulus skryf: “Wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam” (1 Korintiërs 1:27). ’n Besluit om volgens die reëls van die koninkryk te lewe, mag vir die wêreldling dwaas lyk, maar dit kan eer en heerlikheid aan ons Here en Meester bring.