Op 6 Junie 1944 was Dwight D. Eisenhower, aanvoerder van die Geallieerde Magte, die magtigste persoon op aarde. Onder sy leiding het die grootste weermag byeengekom met die doel om Europa uit die mag van Nazi Duitsland te bevry. Hoe was dit moontlik dat Eisenhower so ’n geweldige mag kon lei? Een rede was omdat hy ’n besondere slag gehad het om met mense van verskillende standpunte, saam te werk. Wat baie mense nie weet nie, is dat Ike nie altyd so goed met mense oor die weg gekom het nie. Toe hy nog op skool was, het hy dikwels in vuisgevegte betrokke geraak. Gelukkig het hy ’n moeder gehad wat wys was en Hom ook in die weë van die Here onderrig het. Eendag was sy besig om sy hande te verbind nadat hy in ’n geveg betrokke was. Sy het uit Spreuke aangehaal: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem” (Spr. 16:32). Jare later skryf hy: “Ek dink altyd terug aan daardie gesprek met my ma en beskou dit as een van die belangrikste oomblikke in my lewe.” Toe Eisenhower geleer het om sy humeur te bedwing, kon hy met ander saamwerk. Dis onvermydelik dat ons in situasies sal beland dat ons met woede wil reageer. Maar deur God se werking in ons lewe, kan ons leer om onsself te beheer. Daar’s nie ’n beter manier om ander te beïnvloed as deur nederig te wees nie.