Dit lyk asof jongmense in Sjina begin vergeet hoe om die pragtige letters van hulle tradisionele taal, te skryf. Daar is sommige mense wat hierdie verskynsel character amnesia, (geheueverlies van karakter) noem. Die gebruik van rekenaars en selfone lei daartoe dat die skryfkuns verwaarloos word en daarom kan sommige jongmense nie meer die letters wat hulle as kinders geleer het, onthou nie. Een jongman het opgemerk: “Mense skryf nie meer met die hand nie, behalwe vir hulle naam en adres.” Dan is daar mense wat aan ’n ander tipe “amnesie van karakter” ly. Wanneer hulle met ’n probleem gekonfronteer word, vergeet hulle wat die regte ding is om te doen en kies sommer die maklike uitweg. God het van Job gesê: “Hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad” (Job 1:8). God het Satan toegelaat om alles van Job weg te neem – sy kinders, sy rykdom en sy gesondheid. Maar ten spyte van hierdie pynlike, hartverskeurende omstandighede het Job geweier om die Here te vloek. “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie” (Job 1:22). Satan het God se bewering dat Job opreg en sonder skuld was, bevraagteken, maar hy is verkeerd bewys. Geheueverlies van karakter? Nee. Karakter is dit wat ons is, dis nie iets wat ons kan “vergeet” nie. Diegene wat ’n verlies van karakter het, het self die keuse uitgeoefen.