Gedurende my jare op kollege, het ek as ’n gids gewerk en seuns op uitstappies in die Rocky Mountain Nasionale Park in Kolorado geneem. Tydens een van die uitstappies het een van die stappers – ’n tingerige, stadige knaap – agter geraak en iewers ’n verkeerde afdraaipad geneem. Toe ons by die kamp aangeland het, was hy nêrens te vinde nie. Ek was desperaat en het hom gaan soek. Net voor dit donker geword het, het ek hom gekry waar hy by ’n kleinerige meer gesit het, verlore en alleen. In my vreugde het ek hom omhels, hom op my skouers gelig en die hele pad terug na sy maats toe, gedra. Die Skotse outeur, George MacDonald, skrywe van ’n jong vrou wat ’n kind verlore en alleen in die bos gevind het. Sy het hom in haar arms opgetel en na haar ouerhuis geneem. Deur daardie gebeure het sy ’n nuwe insig in die hart van die Seun van die Mens gekry, Hy wat gekom het om verlore sondaars na hulle hemelse Vader terug te lei. Ek wil so graag hê dat jy ook die hart van Jesus, die Seun van die Mens, moet ken, Hy wat gekom het om verlore kinders na die Vader terug te bring. “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Lukas 19:10). Maak nie saak hoe ver jy van die Here afgedwaal het nie, of hoe verlore jy ook al mag wees nie, Hy het gekom om te soek en te red dié wat verlore is, ja ook vir jou.