As kind was die bou van model vliegtuie een van my stokperdjies. Elke keer as ek ’n nuwe verpakking oopgemaak het, was daar instruksies aangeheg. Maar selfvoldaan het ek gedink ek hoef nie die instruksies te volg nie – ek weet mos hoe om dit te doen. En gewoonlik, nadat ek ’n paar stukke aanmekaar geheg het, het ek ontdek dat ek een of ander iets oorgeslaan het, byvoorbeeld dat ek vergeet het om die loods in die stuurkajuit in te sit. Dis so maklik om te dink dat ons nie riglyne vir die lewe nodig het nie. Dis eers wanneer ons ’n gemors van alles gemaak het, dat ons die fout agterkom. Daarom het Jesus sy volgelinge beveel om sy instruksies vir ’n veilige en betekenisvolle lewe na te volg (Matt. 7:24-29). Hy het sopas aan die mense gesê dat hulle die ander wang moet draai, die ekstra kilometer moet loop, hulle vyande moet vergewe en hulle skatte verkoop sodat hulle iets het om aan die armes te gee (Matt. 5:39-44). Maar om net instruksies te ontvang is nie genoeg nie. Hulle moet nagevolg word. “Elkeen dan wat hierdie woorde van my hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op rots gebou het” (Matt. 7:24). Diegene wat nie Jesus se riglyne navolg nie, is soos Jesus self sê, “dwaas” (vs. 26). Vir die wêreld is dit dwaas om jou vyande te vergewe en aan armes te gee, maar Jesus sê dis die wyse weg.